close
Gaan na inhoud

Esties

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Estlanders.
Esties
eesti keel 
Uitspraak: [ˈeːsti ˈkeːl]
Gepraat in: Vlag van Estland Estland
Vlag van Finland Finland
Vlag van Letland Letland
Vlag van Rusland Rusland (Pskof-oblast Petseri-distrik) 
Gebied: Noord-Europa
Totale sprekers: ca. 1,1 miljoen[1][2]
Taalfamilie: Oeraals
 Fins-Oegries
  Fins-Permies
   Fins-Wolgaïes
    Fins-Samies
     Oosseefins[3]
      Esties 
Skrifstelsel: Latynse alfabet (Estiese variant) 
Amptelike status
Amptelike taal in: Flag of Europe Europese Unie
Vlag van Estland Estland
Gereguleer deur: Instituut van die Estiese Taal / Eesti Keele Instituut (semi-amptelik)
Taalkodes
ISO 639-1: et
ISO 639-2: est
ISO 639-3: est 
Verspreiding van Esties

Esties (eesti keel, [ˈeːsti ˈkeːl], ) is die amptelike taal van Estland en, sedert dié land se aansluiting op 1 Mei 2004, ook een van die amptelike tale van die Europese Unie. Die taal, wat ook Estnies, Ests of Estlands genoem word, het ongeveer 1,1 miljoen sprekers. Daarmee is dit op twee na (ná Yslands en Maltees) die kleinste taal in Europa wat op alle vlakke (in wetgewing, regspraak, wetenskap en letterkunde) gebruik word. Die eerste Estiese boek het in 1535 verskyn.

BERJAYA
Estiese grammatika gepubliseer in 1637 deur Heinrich Stahl in Reval

Esties behoort tot die Fins-Oegriese tale en binne dié taalfamilie tot die Oosseefinse tale. Tot dié groep tale, wat rondom die Finse Golf gepraat word, behoort ook Fins, 'n taal wat die meeste Estlanders sonder veel moeite kan verstaan. Omgekeerd geld dit egter minder: benewens die verwantskap tussen die twee tale speel dit ook 'n rol dat die Estlanders vertroud is met Fins, byvoorbeeld omdat hulle steeds Finse televisie kan ontvang en omdat Estland druk besoek word deur Finse toeriste.

Esties is nie verwant aan Lets of Litaus nie en ewemin aan Russies. Afrikaans is in der waarheid as Indo-Europese taal nader aan die drie tale as Esties.

Esties gebruik die Latynse alfabet, aangevul deur die klinkertekens ä, ö, ü en õ. Die laaste teken staan vir 'n tipies Estiese klinker wat gevorm word deur die tong te plaas asof 'n o uitgespreek word en die lippe daarby te trek. As beginletters kom b, d en g slegs in woorde voor wat uit vreemde tale ontleen is. Sowel klinkers as medeklinkers kan kort, lank en ekstra lank wees. In Estiese spelling word grotendeels slegs die verskil tussen kort en lank weergegee en wel deur die letter dubbel te skryf: sada "honderd" vs. saada "om te kry" en kana "hoender" vs. kanna "dra!".

Esties is in sy gebruikswêreld deur alle omringende tale beïnvloed. Daar is Oudgermaanse, Baltiese en Slawiese leenwoorde uit die tyd toe die Oosseefinse familie nog een taal was (voor die begin van ons jaartelling), byvoorbeeld onderskeidelik die woorde rand ("strand", Germaans), sild ("brug", Balties) en aken ("venster", Slawies). Jonger is die groot aantal leenwoorde uit Nedersaksies, die taal van die Hanse. Die taal lyk baie soos Nederlands (meer as na Hoog-Duits), en aangesien die Estiese spelreëls op sommige punte ooreenkom met die Nederlandse, is daar 'n hele aantal woorde wat in Nederlands en ook in Afrikaans en in Esties identies is: klooster, kaart, kroon, kraan.

Ander wyk 'n bietjie af, maar is tog heel herkenbaar: hoov ("hof"), triikima ("stryk"), pott ("pot") en pann ("pan"). Die aantal Russiese leenwoorde uit die vorige eeu is redelik beperk. Die invloed van Engels is tans wel groot. Esties het minder as Fins die neiging om eie, puristiese woorde te gebruik vir nuwe sake ("telefon", "instituut", maar wel arvuti vir rekenaar pleks van die Engelse computer). Dit herinner aan die verskil tussen Afrikaans en Nederlands waar Afrikaans ook meer geneig is om nuwe woorde te gebruik terwyl Nederlands gereeld Engelse woorde aanneem.

Kenmerke van Esties

[wysig | wysig bron]
BERJAYA
Die Estiese alfabet
'n Estiese moedertaalspreker
  • Esties gebruik dikwels naamvalle, waar Indo-Europese tale liewer voorsetsels gebruik: käes "in die hand", Eestisse "na Estland".
  • daar is geen verskil tussen manlike en vroulike woorde nie; tema beteken sowel "hy" as "sy".
  • na 'n telwoord volg 'n enkelvoud. Die bybehorende naamval is die partitief, 'n naamval wat oorspronklik 'n deel van iets uitdruk (vergelykbaar met die Franse du pain).
  • medeklinkers in 'n woord word "swak" (verander, verkort of verdwyn) as daar sprake is van 'n geslote (of: oorspronklik geslote) lettergreep: tiib "vleuel" vs. tiival "aan die vleuel".
  • daar is geen lidwoorde nie.
  • Esties vermy opeenhoping van medeklinkers aan die begin van 'n woord: strand word rand.

Esties deel bostaande eienskappe met Fins en die meeste ander Fins-Oegriese tale.

Op die volgende punte wyk Esties van Fins af:

  • daar is geen klinkerharmonie nie. Na die eerste lettergreep kan wel slegs vier klinkers voorkom: a, e, i en u (as variant soms o).
  • klinkers kan in verboë vorm veranderinge ondergaan: madu "slang" vs. mao "van die slang" (u word o), rida "ry" vs. rea "van die ry" (i word e).
  • waar in Fins besit uitgedruk word deur 'n uitgang na die woord, gebruik Esties 'n vorm van persoonlike voornaamwoord: Fins käsini = Esties minu käsi "my hand".
  • daar is 'n groot aantal werkwoordvoorvoegsels, vergelykbaar met dié in Nederlands en Afrikaans: kandma "dra": ette kandma "voordra".
  • daar is twee infinitiewe: ma tahan saada "ek wil kry" vs. ma pean saama "ek moet kry" (saama/saada = "om te kry").

Die getalle van 1 tot 10 in Esties: 1 – üks | 2 – kaks | 3 – kolm | 4 – neli | 5 – viis | 6 – kuus | 7 – seitse | 8 – kaheksa | 9 – üheksa | 10- kümme.

Dialekte

[wysig | wysig bron]
BERJAYA
Noord-Estiese dialekte aan die begin van die 20ste eeu[4][5]
BERJAYA
Suid-Estiese dialekte aan die begin van die 20ste eeu[4][5]

Ondanks Estland se relatief klein oppervlakte van 45 228 km² is daar agt streeksdialekte van Esties (Esties: murded) wat verder verdeel kan word in 117 plaaslike dialekte. Hierdie ontwikkeling het uit die vroeëre politieke en maatskaplike orde voortgespruit waarin Estiese boere – en dus die oorgrote meerderheid van die Estiessprekende bevolking – deur 'n stelsel van lyfeienskap en heredienste tot hul parogieë beperk en daar geïsoleer was. Hulle kon dus nie in hul eie land vry beweeg nie.

Esties het gevolglik oor 'n lang tydperk as 'n groep van streeksdialekte met afwykende taaltendense ontwikkel. Die twee grootste dialekgroepe was Noord-Esties, wat later as basis vir die huidige standaardtaal sou dien, en Suid-Esties. Die eersgenoemde het danksy Tallinn as politieke sentrum belangrike status as skryftaal geniet, terwyl Suid-Esties deur die invloed van Tartu as universiteitstad eweneens tot 'n skryftaal ontwikkel het. Die ontwikkeling van twee groot streekdialekte het die historiese politieke verdeling van die land in Noord- en Suid-Estland weerspieël, waarby die laasgenoemde deel uitgemaak het van die vroeëre Lyfland.

Tans word die twee groot streekdialekte in agt hoofdialekte onderverdeel, waarby die dialekte, wat langs die Noordooskus en op die eilande van Wes-Estland gebesig word, nie by hierdie groepe gereken kan word nie:

Noord-Esties
  • Wes-dialek (läänemurre)
  • Sentraal-dialek (keskmurre)
  • Oos-dialek (idamurre)
Suid-Esties (suid van Tartu en Põltsamaa)
  • Mulgi of Mulk-dialek (Mulgi murre)
  • Tartu-dialek (Tartu murre)
  • Võro of Võru-dialek (Võru murre)
  • Seto-Dialek (Setu murre)
Kusgebied-Esties (oos van Tallinn langs die kus tot by die grensstad Narva)
  • Noordooskus-dialek (rannikumurre)
Eiland-Esties
  • Eiland-dialek (saarte murre)

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Estonian". Ethnologue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2019. Besoek op 2 April 2016.
  2. (en) "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Estonian, Standard". Ethnologue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Junie 2020. Besoek op 2 April 2016.
  3. (en) Jacek Fisiak, Raymond Hickey, Stanisław Puppel, Language History and Linguistic Modelling: A Festschrift for Jacek Fisiak on His 60th Birthday, Contributor Jacek Fisiak, Uitgegee deur Walter de Gruyter, bl. 831, 1997, ISBN 3-11-014504-9, ISBN 9783110145045
  4. 1 2 (en) Rantanen, Timo; Tolvanen, Harri; Roose, Meeli; Ylikoski, Jussi; Vesakoski, Outi (8 Junie 2022). "Best practices for spatial language data harmonization, sharing and map creation—A case study of Uralic". PLOS ONE. 17 (6) e0269648. Bibcode:2022PLoSO..1769648R. doi:10.1371/journal.pone.0269648. PMC 9176854. PMID 35675367.
  5. 1 2 (en) Rantanen, Timo, Vesakoski, Outi, Ylikoski, Jussi, & Tolvanen, Harri. (2021). Geographical database of the Uralic languages (v1.0) [Data set]. Zenodo. https://doi.org/10.5281/zenodo.4784188

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Wikipedia
Wikipedia
Sien gerus Wikipedia se uitgawe in Esties