Buite is dit bedompig warm; binne werk die lugverkoeling hard. Dit het goed gereën en die tuin bars in somerglorie uit, met ‘n wye verskeidenheid skakerings van groen.
Smokey lê heeldag binnenshuis en snags glip sy buitentoe.
Batman hou daarvan om die heeltyd buite te wees.
Kan julle hom hier onder raaksien?
Ek en baba Theo gaan stap in die oggendson. Die wind lig sy reguit kuifie saggies op. Twee voëls sing in stereo aan weerskante van ons. Dit is – uiteindelik – somer.
Die afgelope paar nagte sukkel ek om te slaap, want my hart pyn. My skoonsussie Suzette is op 5 Mei oorlede. Ek was lief vir haar.
Sy is Gewese Liefling se ouer sussie en deur die jare het sy oneindig baie vir ons beteken.
Die deur van haar kasarm van ‘n ou plaashuis in die hartjie van die Bosveld het altyd wyd oopgestaan vir al haar boeties en haar sussie met hulle gesinne. Die aand toe ek GL se familie ontmoet het, was daar ‘n falanks mense voor die TV – destyds nog ‘n groot nuutjie op die plaas. Die ontvangs was sleg en Suzette het bevele uitgeroep oor watter kragbronne in die kombuis afgeskakel moes word om die TV-beeld te verbeter.
Sy was maar 19 toe sy en Naas getroud is. Hulle het aanvanklik in die huisie onderkant die koppie gewoon en na die boonste huis toe getrek toe Naas die baas van die plaas geword het. Suzette het haar huishouding met flair bestuur. Die vloere was skoner as my eie huis s’n, ten spyte van die daaglikse verkeer van boere, agente, kuiergaste en bure – hoe weet ek dit? Die knieë van my kinders se babygro’s in die dae toe hulle nog gekruip het, was die stille getuies. Haar kombuis het die wonderlikste boerekos voorsien – net soos haar mammie s’n. Die Sondagaand van daardie eerste naweek het sy klein, bros vetkoekies gebak, wat GL vir my met botter en appelkooskonfyt gesmeer het.
Haar naaldwerk was meer kuns as enigiets anders. Ek kon dophou hoe sy binne ‘n uur of twee vir my eenjarige dogtertjie die mooiste wit broderie anglaise-rokkie gemaak het, wyd, met ‘n diepgeplooide valletjie aan die soom en in vierkantvorm oor die skouertjies, fyntjies afgewerk met ‘n donkerblou puntjieskant. Hoeveel meters se duvetstelle het sy gestik? Hoeveel pragtige trourokke geskep? Sy het die rokkie gemaak wat my dogter gedra het toe sy haar laatlam-boetie by die kerk ingebring het om gedoop te word. Op haar matriekafskeid het my kind geblom in ‘n kantskepping deur tannie Suzette, kompleet met ‘n vollengte-mantel-met-kappie. Vir my het sy een jaar, uit haar eie, die mooiste smaraggroen uitrusting gemaak om op die swierige bal te dra wat GL jaarliks vir sy baas moes reël.
Suzette was ongelooflik vrygewig. Laterjare, toe sy nie meer naaldwerk gedoen het nie, het sy op my kleindogtertjie Gabby se tweede verjaarsdag vir haar ‘n hele klerekas se pragtige Woolworths-kleertjies gekoop. Toe my mammie oorlede is, het sy met haar kombi van die plaas af Pretoria toe gery, om ons hele gesin na die begraafplaas in Roodepoort en terug te vervoer.
Die lewe van ‘n fyn vrou in daardie patriargale omgewing was nie maklik nie, maar sy was vrou genoeg vir die hele ou spulletjie. Daar was ‘n legende oor die keer toe sy die twee kinders in die kar gelaai en die pad gevat het – wie weet waarheen … By ‘n ander geleentheid het sy die twee bakleiende kinders op die agtersitplek langs die pad afgelaai, sodat hulle hulleself moes regruk. Ek sien haar voor haar elektroniese orreltjie sit en gebroke note speel, in die laataande na haar pappie se dood. ‘n Amaryllislelie herinner my steeds aan ‘n diepe, ondraaglike, smartlike verlies in haar lewe. Toe Naas oorlede is, het haar swerfjare begin, tot sy uiteindelik onder haar dogter se vlerk tuisgekom het.
Dis heerlike lente hier in South Carolina. Die uitbundige asaleas het reeds die meeste van hulle blomme verloor, nadat hulle ‘n paar weke lank vir die mooiste tonele gesorg het. Op hierdie foto blom die dogwood nog, maar tans lê al daardie groot wit blomblare reeds op die grond.
Oral blom die surings, wit, geel en pienk. Die affodille, wat heel eerste geblom het, is lankal weg. Op die grasperke groei dandelions by die duisende. Dit laat my verlang na ‘n tyd wat onherroeplik verby is, toe my Suid-Afrikaanse kleinkindertjies so opgewonde kon raak oor die enkele dandelions langs die pad – hoe sou daardie kindertjies tog hierdie oorvloed geniet het! Of was dit juis die skaarste wat gemaak het dat hulle so opgewonde was oor elke ontdekking, dat hulle so versigtig en met innige vreugde die saadjies in die wind weggeblaas het?
V het ‘n nuwe projek – sy het ‘n yslike silo op die Connie Maxwell-plaas ligblou geverf en versier dit nou met die plaas se logo en allerlei blomme. (Om bo by te kom, het sy een van die plaas se hyskrane geleen!) Die plaasmense volg haar vordering met groot belangstelling; een van die boere het haar in ‘n waarderende boodskappie “Minister to my heart” genoem.
Onderaan op die silo pryk ons geliefde swart kat Batman – hierdie foto is as model gebruik:
Batman is heeldag in en uit by die huis. As iemand in die tuin is, volg hy hulle soos ‘n hondjie. Hy – en ek – is baie bly die winter is verby.
Die baba wat ek oppas, se mammie werk buitenshuis as berader; sy versorg klein Theo en sy voorskoolse boetie; sy’s ‘n puik sjef en iemand wat vyf goed tegelyk kan doen; sy studeer vir haar meestersgraad en woon drie aande per week aanlyn klasse by; en les bes, sy is ‘n boekwurm, wat as dogtertjie urelank onder die kantoorlessenaar van haar pa gesit en lees het. Haar “gentle giant” van ‘n man, wie se kop net-net onder die deurkosyn pas, bring Theo soggens na ons huis toe en kom haal hom weer smiddags laat.
Omdat ek haar lanklaas gesien het, skryf ek vir haar ‘n nota om te sê hoe baie haar kleinding vir my beteken. Gisteroggend lewer haar man, benewens Theo, ‘n kaartjie en ‘n boek by my af. Die woorde in die kaartjie raak my hart diep …
Gistermiddag daag sy self op, met nog TIEN boeke vir my om te lees, sulke mooi hardeband-uitgawes van haar eie boekrak af, versigtig uitgesoek om by my smaak te pas soos wat sy al uit ons gesprekke kon aflei. Ek kry drukkies en ‘n kamma-streng vermaning dat dit nooit sal deug dat ek dieselfde boek driemaal lees nie (ek het die oggend, n.a.v. die geskenkboek, teenoor haar man erken dat ek besig was om dit te doen, maar sonder die konteks dat dit ‘n Terry Pratchett is en dat dit die derde maal in so ‘n lang tyd is dat ek niks meer daarvan onthou nie).
Op haar kop is ‘n bandjie met ovaalvormige krale wat die kleur van haar oë beklemtoon. Ek kry innige drukkies. Klein Theo kraai van plesier omdat hy sy mammie sien. Terwyl ek vir haar dankie sê, knak my stem en is daar onverwags trane. Ek probeer verduidelik dis “happy tears”, want hierdie boeke is “a new beginning” nadat ek al my boeke moes wegmaak …
Rus in vrede, ou Diesel, hierdie aardse lewe van jou is verby.
Dit was swaar om jou laaste maande saam met jou deur te maak. Die veearts het medisyne gegee, maar daar is nie eintlik raat vir die ouderdom nie. As dit van my afgehang het, het jy lankal daardie genadige inspuiting gekry. Maar jou “pa”, my liewe skoonseun, kon dit nie oor sy hart kry nie en soos my kind met haar diep insig opgemerk het, wanneer P tuis was, het jy opgekikker en heelwat beter gelyk as wat jy eintlik gevoel het. Dan het jy oudergewoonte op sy skoot gaan lê en soos ‘n jong kat gespin …
Jy het orals plassies gelos; soms hartverskeurend gemiaou, soos ‘n besetene aan jouself gekrap dat die pluise kathare in die lug rondvlieg, uiteindelik maar net heeltyd bo-op die hoë rugleuning van die leunstoel gelê, nadat jy en ek ‘n hewige stryd om beheer van daardie stoel gevoer het – ‘n stryd wat jy uiteindelik oortuigend gewen het en waartydens die mooi staanlamp van die tafel afgeval het en ‘n yslike stuk van die staander se blou glas afgebreek het toe ek jou met ‘n stoelkussing probeer verwilder het. Ek en die baba wat ek bedags vir V se vriende oppas, moes toe maar druipstert na die rusbank verkas.
Vanoggend vroeg, toe ek nat kos uitdeel, was jy nie daar nie. Die rugleuning van die leunstoel is leeg en ek wil nie eens op daai stoel gaan sit nie. Gistermiddag het die bure in die oorkantste straat se ou swart kat, genaamd Vader na die Darth van Star Wars, op ons vensterbank kom sit en na binne getuur, kompleet asof hy simpatie wou betuig. Gisteraand het my kinders half verwese op die bank gesit …
Rus in vrede? Nee, hardloop liewers op groen gras, lê in warm sonkolle en sagte koelte anderkant die reënboogbrug en stuur vir Skoonlief groete van haar nooi.
Ons staan 2:00 op om na Greenville se lughawe te ry, vanwaar ons ‘n vlug na LaGuardia, New York haal. Drie dae se mallemeule volg, die een indruk na die ander …
Dis koud …
Die groenbruin, klotsende golwe van die Hudsonrivier – met New York se asemrowende geboue op die agtergrond.
Die Hungry Llama maak lekker warm chai-tee, maar dit bly koud …
19de-eeuse Franse skilderkuns in die Metropolitan Museum; loodglas; antieke beelde.
Dis so baie koud …
Die “hop on, hop off”-bus en die manier waarop die busbestuurder ontdooi toe V haar komplimenteer oor haar bestuursvernuf in die rasende verkeer.
Times Square, waar ‘n gesofistikeerde fondsinsamelaar ons “hassle” en my “Queen Mom” doop.
Dallas Barbecue, met die lekkerste “pulled pork sandwich ‘n coleslaw” – hier is die uitsig deur die venster:
Broadway-vertonings: een aand Aladdin en die volgende aand Hadestown, ‘n hoogtepunt! Die vertonings begin 19:00 en so teen 22:00 wemel die sypaadjies van die mense – daar is ‘n voelbare ligtheid van gees danksy die verskeidenheid vertonings wat hulle sopas kon beleef.
Die New Yorkers: beroepslui uitgevat in duur jasse en mooi stewels, haastig op pad na waar ook al; werkers wat vrolik oor en weer roep terwyl hulle verbreek en bou; vriendelike pizzasjefs; verveelde “dog walkers” met vier/vyf honde aan leibande in Central Park; uitgeputte pendelaars …
Twee dae voor Kersfees kom my broerskind Maja by ons aan uit Nieu-Seeland om ‘n maand lank in die VSA by haar niggie V, dié se man P, en haar “Tannie Cicca” te kuier. Sy het sopas haar graad in Verpleegkunde behaal en gaan in Februarie 2026 by Ongevalle in ‘n Aucklandse hospitaal begin werk. Tien jaar gelede was sy ‘n middelskooldogtertjie, saam met wie ek eende in ‘n Nieu-Seelandse stroompie gevoer het. Nou het sy ontluik in ‘n pragtige, sjarmante, bedagsame jongmens, wie se gelaatstrekke my aan my broer herinner en met grysblou oë, ‘n samesmelting van my broer en sy Hongaarse vrou se oogkleure.
V se bewonderenswaardige talent vir beplanning en organisasie skop in en ‘n maand se opwinding volg, waartydens die uwe haar lyf toeris kan hou en orals heen kan saampiekel. Ons eerste groot avontuur is drie dae in Atlanta, die hoofstad van Georgia, so drie en ‘n half ure se ry van ons af. Die stad het besondere mooi geboue, ‘n mengsel van wolkekrabbers en geskiedkundige geboue wat goed onderhou word.
Hier is byvoorbeeld ‘n treffende bronsbeeld van ‘n arend (waarskynlik die “bald eagle”) voor die Federal Reserve Bank, geskep deur die Amerikaanse beeldhouer Elbert Weinberg. Dit weeg 3 300 pond (1 496 kg) en staan bo-op ‘n pilaar wat 48 voet (14 m) hoog is, een van vyf pilare wat van die vorige gebou af saamgebring is en nou voor die nuwe gebou pryk.
Ons bly in ‘n “pet-friendly” hotel in die hartjie van die universiteitsdistrik, maar dit is nog wintervakansie, met die gevolg dat die omgewing veel stiller as gewoonlik is. Die Amerikaners se spontane vriendelikheid bekoor my nog steeds: Vroeg daardie eerste aand vat ons my kinders se hond Honey om te gaan stap en ‘n verbyganger steek vas, vra of die hond vriendelik is, en krap haar agter die ore, duidelik ‘n hondeliefhebber. Dis Vrydagaand en hy is op pad iewers heen, netjies uitgevat en met die skoonste skoene wat ek in jare gesien het.
Later die aand besluit ons om die reën te trotseer en na die kersliggies in die botaniese tuin te gaan kyk – P bly by Honey in die hotel. V bestuur m.b.v. die GPS en slaag terselfdertyd daarin om per selfoon kontak te hou met Maja, wat besluit het om in ‘n wildvreemde grootstad, in die donker en in die reën, op ‘n gehuurde scooter na die tuin toe te ry! Ons laat haar begaan, want soos V sê, “sy maak nou ‘n wonderlike herinnering”, maar ek slaak ‘n sug van verligting as ons almal behoue by die tuin aankom. Dit reën sulke vet druppels en ons skoene is gou deurnat, maar die liggies en musiek is so pragtig dat ons nie eens omgee nie.
Saterdagoggend gaan eet ons wafels by die Waffle House en dié plek steel my hart, want hulle het “hot tea”! V besluit om by Honey te bly terwyl ons ander drie die Georgia Akwarium en die Coca-Cola Museum gaan besoek. Dit is die tweede keer dat ek so bevoorreg is om die akwarium te besoek, ‘n uiters gewilde en baie besige plek. Op ‘n stadium gaan sit ons voor ‘n tenk vol pragtige veelkleurige visse, met ‘n glasvenster wat van die grond tot teen die plafon strek. Die visse swem almal in een rigting en die mense stroom almal in die teenoorgestelde rigting verby: Hierdie plek is nie net ‘n akwarium nie, dit is ook ‘n “humanarium” 😉
Daarna stap ons na die Coca-Cola Museum wat net langs die akwarium geleë is. Ons het groot pret met ‘n toep wat ‘n foto neem en daardie foto dan as ‘n spesifieke karakter inklee – hier is die “Socialite”:
… en die “Traveller”:
Ons proe tientalle geure koeldrank wat in Coca-Cola se laboratorium ontwikkel is. P soek na Cream Soda, want hy weet dis V se gunstelinggeur en hy wil haar graag wys dat sy moes saamgekom het, maar al wat daar is, is rooi (!!) Cream Soda en P sien onmiddellik af van daardie plan. Uitgeput kom ons by die hotel aan en rus so ‘n bietjie, want Maja het vir ons kaartjies gekoop om vanaand na die Cirque du Soleil se vertoning Luzia te gaan kyk.
Om ‘n vertoning van Cirque du Soleil te sien, is al 23 jaar lank ‘n droom van my en toe word die droom bewaarheid. Herinneringe aan my kinderjare, toe my pappie ons gereeld sirkus toe geneem het, maak die ervaring bittersoet. Daar is ‘n rêrige orkes en ‘n sangeres met ‘n goddelike mooi stem. Die akrobate is asemrowend en die narre is gesofistikeerd snaaks. Op ‘n stadium stap ‘n groot jaguar oor die sirkel – maar dit is ‘n robot, nie ‘n werklike dier nie. Dit is ‘n aangrypende oomblik, ‘n huldeblyk aan al die vergange sirkusdiere wat – soms onder haglike omstandighede – die mense moes vermaak.
Sondagoggend vat V ons na ‘n koffiekroegie toe wat sy die vorige dag op haar eie ontdek het, waar Honey ook welkom is. Ons eet heerlike soetgebak vir ontbyt, gaan stap dan vir oulaas deur die stadstrate voordat ons die terugtog na Greenwood toe moet aanpak. Ons stap verby die herehuis wat P vroeër op ‘n stappie met Honey ontdek het, destyds in woonstelle verdeel, waar Margaret Mitchell haar onvergeetlike roman “Gone with the Wind” geskryf het.
Die strate is stil en ‘n liedjie uit my “Sturm und Drang”-jare dwaal in my kop.
Maar die wroeging van alleenwees is vanoggend ver van my af, want ek is deel van “ons” in Atlanta.
Die Amerikaners het ‘n tradisie om ‘n Kersfeesbrief te skryf, wat hulle by ‘n kerskaartjie insluit, waarin hulle ‘n oorsig van die afgelope jaar gee, sodat familie en vriende weet wat die hoogtepunte was. Hier is my Kersfeesbrief:
2025 was ‘n eienaardige jaar. Vroeg in Januarie was daar sneeu in die “warm” winter van South Carolina.
Begin Maart is ek terug Suid-Afrika toe om met die tweeling, Joshua en Gabby se nuwe sibbetjies, te gaan help. Hulle is op 31 Maart gebore. My kosbare skoondogter het na die babatjies omgesien en ek het huisgehou. (Ook maar goed dat ‘n mens gewoonlik betreklik jonk is wanneer jy ‘n huisvrou moet wees.) Voor ek SA toe is, het ‘n Amerikaanse vriendin vir my hierdie e-kaartjie gestuur:
Na ses maande van chaos en kleinkinderliefde het ek teruggekeer na die rustige heenkome van my dogter en skoonseun se huis in die VSA. Die verlange na Gabby, Joshua en die tweeling Lana en Luca was ‘n benoudheid in my hart, maar – soos altyd! – is daar vir my troos gestuur, naamlik ‘n prenteboekmooie baba.
Klein Theodore is op 15 Julie gebore en in September het my dogter hom bedags begin oppas, want sy mamma moes terug kantoor toe. ‘n Babalyfie om vas te hou! Malherbe skryf: “Sag op haar bloue oë daal die vaak …” Wel, die vaak gryp vir klein Theo en maak dat sy ogies omdop net voordat hy aan die slaap raak – dit bly vir “Ouma” ‘n bron van vermaak. Sy geredelike glimlaggie maak selfs die grysste wintersdag vol sonskyn.
‘n Lewensles wat ek sowaar nou nog nie geleer het nie, is: “Van uitstel kom afstel”. Uitstel het veroorsaak dat ek my kosbare stoepvriend nie eers een keer gesien het terwyl ek in SA was nie – so ook ‘n vriendin wat my lewe nog altyd op besonderse maniere verryk het. Woordnoot en ek sou ook nog gekuier het … Gelukkig het ek darem heelwat wonderlike oomblikke van warmte en omgee beleef: die verwelkomings- en afskeidsdrukkie wat ek by ons dominee gekry het; die opregte meelewing van my susters in Christus; die dag toe Hester Ley Nel die bloggers opgekommandeer het om te kuier; die sonnige teedrinkoggend saam met Toortsie; afsonderlike kuiers saam met my drie vriendinne wie se name aldrie met ‘n M begin; die dag toe een van die M’e vir Laatlam se huishouding ‘n splinternuwe wasmasjien laat aflewer het; en nog vele meer.
Terug in die VSA is ek weer eens met drukkies verwelkom – en my skugter kat Smokey het oudergewoonte op my skoot geklim, gekwyl en gespin terwyl sy haar kennetjie dan links, dan regs teen my wange skuur. My kind het ‘n huisvol vriende opgekommandeer om my mylpaalverjaarsdag wat stil-stil in SA verbygegaan het, te vier – dit was ‘n volslae verrassing. Haar vriendin se leefarea was vol ballonne (o.a. van daardie goue syfers wat my skrikwekkende ouderdom uitgespel het vir almal om te sien 🙄) en daar was ‘n reusekoek wat tot op die laaste krummel opgeëet is.
Die jaar was eintlik vol hoogtepunte, maar die blye herkenning op ‘n seun in die VSA se gesig voordat hy alles waarmee hy besig was, gelos het om my te kom groet, was die heel, heel beste oomblik.
Die oggend na Halloween sukkel ek om die swart naelpolitoer van my naels af te kry, want ons gaan nou op reis: vier ure se ry om by die kus van South Carolina uit te kom, in die “Lowcountry” by Hilton Head Island, waar P&V die Sondag as verteenwoordigers van Connie Maxwell Children’s Ministries ‘n kerkdiens gaan bywoon om die kinderhuis bekend te stel en steun te werf.
North en South Carolina is vernoem na die Britse koning Charles II wat van 1660 tot 1685 regeer het en Kaptein William Hilton met sy skip die Adventure gestuur het om die eiland se omgewing te gaan verken. Daar word bespiegel dat die eiland reeds tienduisend jaar gelede deur mense bewoon was. Die Spanjaarde het in 1526 hier ‘n nedersetting gevestig, maar dit het net ‘n kort rukkie bestaan en daar is nie veel daaroor bekend nie. Op Hilton Head Island was daar voor die Civil War ‘n “plantation” wat katoen, indigo en rys verbou het.
Ons ry deur myle en myle se hoë bome, deur klein dorpies waar die ontvolking van die platteland maar al te sigbaar is. Uiteindelik bereik ons die kus, waar die gebruiklike Amerikaanse welvaart weer duidelik blyk. P en Middelkind betrek ‘n reusagtige sportwinkel, waar laasgenoemde ‘n stel gholfstokke uitsoek waarmee hy die middag gaan speel en wat hy gaan saamvat huis toe, na Ierland toe.
Ons gaan eet almal saam in die klubhuis van die gholfbaan en dan maak die manne spore na die putjies toe. Ons akkommodasie is eers later die middag beskikbaar en ek en V besluit om in die klubhuis se restaurant te bly sit, sy met haar storieboek en ek met my rekenaar, wat ek op die nippertjie saamgevat het en waaroor ek nou innig dankbaar is. So kom dit dat ons in die middel van die prysuitdeling van ‘n gholftoernooi beland, met tientalle jolige Amerikaners om ons, besig om hulle kospakke te verorber en bier te drink. Niemand steur hulle aan ons nie, elkeen doen sy eie ding en almal is gelukkig. Die volume raak hoe later hoe harder en die pryswenners word luidkeels toegejuig. Geleidelik verkas die manne huis toe en uiteindelik is dit weer net ons twee en rustige stilte, behalwe vir die enkele werkers wat hulle alledaagse gang gaan. Teen vyfuur kom ons gholfspelers aangestap, moeg en tevrede na ‘n heerlike middag, en ons ry na ons verblyf vir die nag.
Skemertyd gaan verken ons die eintlike eiland, wat via ‘n breë motorweg bereik word (die eerste brug na die eiland is in 1956 gebou; voor dit kon die eiland net per veerboot bereik word). Die oostelike aandlug is pêrel en pienk; die stil, uitgestrekte see dein ver onder ons. Later ry ons na ‘n restaurant wat volgens V se navorsing die moeite werd is. Dit is binne ‘n eksklusiewe woonkompleks geleë en ons moet $9 betaal om daar in te ry. Die restaurant bestaan uit twee dele: die een binnemuurs; die ander een onderdak, maar sonder mure, net deur ‘n sloot met welige strandplantegroei van die strand geskei.
Omdat die aand koel is, gaan sit ons binne – daar is lapservette op die tafels; ‘n rustige, gemoedelike atmosfeer; en die gaste is duidelik welvarend. Ons kelnerin se naamplaatjie sê sy kom van Jamaika af en omdat ‘n orkaan ‘n paar dae vantevore dele van daardie eiland verwoes het, vra P met sy gebruiklike medemenslikheid of haar mense veilig is – sy weet nie, het nog nie van hulle gehoor nie. Toe P die tafelgebed doen, hou ons ook haar hande vas en P bid vir haar mense. Na ‘n heerlike maaltyd klim ons met ‘n houttrap oor die sloot en die plante en V, wat eintlik die siel van ‘n meermin het, dartel in die donker oor die sand tot by die see se skuimrandgolfies.
Sondagoggend gaan laai Middelkind vir P&V by die kerk af waar hulle gaan skakelwerk doen en na ontbyt ry hy en ek weer na die eiland toe. Die seefront is pragtig ontwikkel, met silwerskoon paaie en sypaadjies en gerieflike sitplekke orals. Met sy gebruiklike waarnemingsvermoë merk Middelkind op dat daar waarskynlik ‘n “klein army” is wat die omgewing so skoon hou. Ons gaan stap ‘n entjie op die strand – fyn, styfgepakte wit sand, sterk wind en ‘n pêrelagtige lig. Dan gaan sit ons net langs die strandgebied op ‘n groot houtswaaibank vanwaar ‘n mens die voetverkeer kan dophou: lawwe tieners, gesinne, enkelinge, mense met honde …
Daar is voorbereidings vir ‘n regatta: die seilbote maak ‘n ry aan die waterkant en ondersteuners skrop nes op seilstoele, met proviand vir die dag byderhand. Die Stars ‘n Stripes wapper in die wind en die volgende oomblik speel die VSA se volkslied, The Star-Spangled Banner. Ek sal nooit weet of dit ‘n opname was, of ‘n werklike sopraan wat iewers op die strand staan en sing het nie, maar dit is ‘n pragtige, aangrypende lied, en ek staan tot aan die einde – tot Middelkind se stille verleentheid.
Toe ry ons op Middelkind se voorstel na die Harbour Town Lighthouse en my kind bevestig maar net weer dat hy die meester van wonderlike uitstappies is. In die loop van die oggend het ek hom vertel van Pat Conroy se lieflike boek Beach Music, waarin die skrywer ‘n vrou se vurige rentmeesterskap van die loggerhead turtles beskryf – die ou groot reuse wat langs hierdie kuslyn hulle eiers op die strand kom lê. Dan moet die babatjies ‘n gevaarlike stuk sand navigeer voordat hulle see-in kan swem. Jouwaarlikwaar – in die winkeltjie op die grondvloer van die vuurtoring is daar ‘n ry van Pat Conroy se boeke en ek kom agter dat hy as jong onderwyser op die naburige Daifuskie-eiland skoolgehou het. Ons is by die strand wat hy so meesterlik beskryf in Beach Music! Ons klim die steil trap, al in die rondte, al in die rondte, en verkyk ons aan die pragtige uitstallings.
In die klein hawetjie lê luukse seiljagte en van die oop balkon op die tiende vlak van die vuurtoring sien ‘n mens die Harbour Town Golf Links uitgestrek lê – op die agtiende putjie gebruik spelers glo die vuurtoring as ‘n riglyn om daardie ontwykende hole-in-one te probeer regkry. Toe Charles Fraser in die middel van die twintigste eeu met sy besondere visie die hawegebied ontwikkel het, het hy enkele groot immergroen eikebome (“live oaks”) teen groot koste behoue laat bly. Ons stap terug na die kar toe en bewonder die ou bome, skilderagtig met Spaanse mos behang. Dis tyd om die ander twee te gaan oplaai en die terugtog na die binneland aan te pak.
Die groot sedanmotor gly by die oprit in, hou stil en die gesinnetjie klim uit:
Katherine, met haar mooi groen oë, lang ligtebruin hare en sjarmante “Southern drawl”; Noah, die voorskoolse “hellion” (sy ma se woord, nie myne nie) met sy krulkop en intense donkerbruin ogies; Casey, die groot, sterk pappa wie se swart hare nie vandag deur die gebruiklike “ball cap” verberg word nie; en –
klein Theo, die prenteboekbaba met sy geredelike glimlaggie (vier maande oud; weeksdae kom kuier die outjie by my terwyl sy mamma moet werk). Ek verkyk my aan sy feesdaguitrusting: ‘n donkerbruin ferweelpakkie (wat die Amerikaners ‘n “onesie” noem) met ‘n puntkragie en – die hoogtepunt! – ‘n breë wit koordband wat strek van armpie tot armpie, met drie. veelkleurige. kalkoene. wat oor sy borskassie dans.
Dis hulle laaste stop voordat hulle huis toe gaan, nadat hulle heeldag die rondte van Vader Cloete gedoen het by ma en pa se families. My kinders is op ‘n welverdiende plesiervaart in die Bahamas, dus het Katherine besluit om haar oor my te ontferm. Ek kry ‘n yslike bord kos (ham, brusselse spruitjies, wortels, twee soorte “biscuits” wat eintlik ‘n soort skonbedryf is, pampoen met ‘n malvalekkerbolaag en die alomteenwoordige “mac ‘n cheese”) plus nagereg (speserykoek met karamelversiering en ‘n “choc chip cookie” wat drie keer groter is as wat enige soetkoekie behoort te wees).
Die kos was heerlik, maar die grootste lekkerte was die geselskap.
Anything and Everything plus some Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski